Die dodetal van tornado’s wat Oklahoma in Amerika Vrydag getref het, het tot nege gestyg en sluit twee kinders in.
Die medieseondersoekbeampte se kantoor het die nuwe syfer aangekondig en gesê dat vyf van die slagoffers nog nie uitgeken is nie.
Die tornado’s het laat Vrydagmiddag getref en nooddienste in Oklahoma het gesê ‘n ma en kind is dood toe hulle in hul motor op die snelweg gery het. Klik hier om meer te lees.
Dit is nog nie duidelik hoeveel mense beseer is in die reeks storms nie. Volgens die Oklahoman se webwerf word ten minste 87 mense in plaaslike hospitale behandel.
Daar word berig dat vyf tornado’s die gebied rondom Oklahoma City getref het, met winde van tot 145km/h, tesame met groot haelstene.
Vrydag se storm het egter minder skade aangerig as die tornado wat dieselfde gebied twee weke gelede getref het en tot 24 mense se dood gelei het. Winde van meer as 322km/h is toe aangemeld en meer as 33 000 mense is deur die storm beïnvloed.
-SAPA