Dodetal styg in Indië-stormloop

Ratangarh-tempel in Datia, Madhya Pradesh Foto: ratangarhmata.org

Ratangarh-tempel in Datia, Madhya Pradesh Foto: ratangarhmata.org

Die dodetal van Sondag se stormloop op ʼn brug by ʼn Hindu-tempel in Indië het tot 111 gestyg. Die meeste van die slagoffers is vroue en kinders.

Die stormloop het op ʼn brug oor die Sindh-rivier plaasgevind naby die Ratangarh-tempel in Madhya Pradesh, waar duisende mense Sondag bymekaar gekom het om te bid en deel te neem aan die Hindu-fees van Dussehra.

Die polisie het bevestig dat die stormloop gevolg het ná bewerings dat die brug kan meegee nadat ‘n swaar voertuig die brug getref het.

Die aanvanklike dodetal was 89 met vrese dat nog mense moontlik gesterf het toe hulle glo in die rivier onder die brug gespring het.

“Meer sterftes is aangemeld nadat familielede beseerdes van die toneel direk na hul huise of hospitale geneem het,” het CS Solanki, ʼn polisiewoordvoerder, gesê.

Hy het gesê 108 mense is reeds dood verklaar en drie mense word vermis en is vermoedelik dood.

“Van die slagoffers is 33 kinders onder die ouderdom van 14 jaar,” het Solankie gesê. Daar was sowat 25 000 mense op die 500m-lange brug toe die mense paniekerig begin raak het.

Die polisie het gesê hulle verwag nie dat die dodetal verder gaan styg nie en het berigte verwerp dat mense van die brug af gespring het.

Ontstoke aanbidders beweer dat polisiebeamptes die skare met knuppels aangeval het, en nie die skare behoorlik kon beheer nie. ‘n Soortgelyke tragedie het in 2006 op dieselfde brug plaasgevind toe 50 mense dood is. – SAPA/AFP

Lees ook:
Minstens 89 sterf tydens stormloop in Indië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.