Dokter verander getuienis in fiksheid-saak

Argieffoto

Dr. Carolyn Lee wat vroeër getuig het dat drie mense weens hitte-uitputting dood is terwyl hulle aan ‘n fiksheidstoets by die KwaZulu-Natalse Padverkeersinspektoraat (RTI) deelgeneem het, het Dinsdag haar getuienis verander.

Lee sê sy was onseker van haar gevolgtrekking nadat die departement van vervoer die bloed- en patologieuitslag van die drie deelnemers bekend gemaak het.

Lee getuig tans in Pietermaritzburg in ‘n ondersoek oor die dood van agt mense wat in Desember by die stad se Harry Gwala-stadion aan ‘n 4km-wedloop deelgeneem het. Dit was deel van ‘n werwingsfiksheidstoets vir RTI-aansoekers. Meer as 34 000 mense is goedgekeur om vir 90 poste by die RTI aansoek te doen. Altesaam 15 600 aansoekers het op 27 Desember aan ‘n fiksheidstoets deelgeneem en dieselfde aantal op 28 Desember.

Lee was die hoof van die intensiewesorgeenheid by Grey-hospitaal. Sy het twee van die deelnemers, Lungile Wambi en Ntuthuko Sibisi wat gesterf het, ondersoek. Lee het nie Bongiwe Mbatha, die derde slagoffer, ondersoek nie, maar het haar bevindings baseer op mediese aantekeninge wat sy van Edendale-hospitaal ontvang het. Lee het gesê Sibisi het moontlik aan erge dehidrasie gely en het tekens begin toon van diarree. “Wambi het verskeie ligte hartaanvalle gehad en lae bloeddruk wat sy ontwatering verduidelik,” het sy gesê.

In Wambi se geval was hitte-uitputting laer op die lys van moontlikhede. Mbatha het tekens getoon van hitte-uitputting, maar dit is moontlik dat hy ‘n onderliggende toestand onder lede gehad het.

Ravenda Padayachee SC vir die departement, het gesê ‘n kenner sal getuig dat, indien weerstoestande nie gunstig is vir fikse mense om aan ‘n 3.8km-wedloop deel te neem nie, daar na verwagting ‘n 20%-sterftesyfer sal wees vir mense wat geen bestaande mediese toestand onder lede het nie. Hy sê genetika speel ‘n groot rol vir iemand wat ‘n wedloop van 3.8km oorleef in uiterste weerstoestande.

Lee het toegegee dat dit moontlik was dat van die deelnemers bestaande mediese toestande gehad het.

Padayachee sê hy sal ‘n getuie roep wat kan getuig dat Sibisi aan vloeistofoorlading gesterf het. Lee sê die vogvervanging wat aan Sibisi gegee is, is nie ongewoon wanneer mens met iemand werk wat ontwater het nie. Sy sê ‘n gesonde persoon sal nie van agt liter water omkom nie, aangesien hulle dit as urine sal uitskei.

Padayachee sê Grey-hospitaal het Sibisi nie vinnig genoeg afgekoel nie, ondanks die feit dat hulle vermoed het dat sy sonsteek gehad het.

Lees ook:
Fiksheidtoetse: “Niemand sal ‘n kortlys van 35 000 mense opstel nie”
Fiksheidstoetse opgeskort
Ses aansoekers sterf ná fiksheidstoets

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.