Dokters en aptekers in Oos-Kaap het glo lang vingers

Argieffoto

Argieffoto

Dertig dokters, aptekers en beamptes van die departement van gesondheid in die Oos-Kaap word moontlik verbind die diefstal van medisyne.

“Volgens ʼn verslag is die medisyne deur korrupte amptenare aan privaatdokters verkoop,” het Sizwe Kupelo, woordvoerder van die departement, Woensdag gesê. “Die verslag dui aan dat daar aptekers is wat bedank en ʼn privaatapteek in ʼn plattelandse dorpie oopgemaak het en van staatsmedisyne gebruik maak.”

Kupelo sê ʼn privaat forensiese firma het gehelp om die verslag op te stel. Die diefstal vind glo sedert 2009 by die medisyne depot en tydens die vervoer daarvan plaas.

Die dokters, van Port Elizabeth, Mthatha, Elliot, Barkly-Oos, Ugie, Mt Frere, Qumbu en Mqanduli koop glo die gesteelde medisyne en chroniese medikasie by korrupte amptenare.

Twaalf beamptes, wat as aptekers in Queenstown, Engcobo, King William’s Town, Peddie en Mthata gewerk het, word ook geïmpliseer.

Kupelo sê die departement het die inligting aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek en om die persone, wat in die verslag aangedui word, in hegtenis te neem, maar tot dusver is niemand nog in hegtenis geneem nie. “Dit kos miljoene. Die departement spandeer jaarliks R3 miljard om seker te maak dat medisyne by staatshospitale en klinieke beskikbaar is,” het Kupelo bygevoeg. “Ondanks dié uitgawe het gemeenskappe steeds gekla oor die tekort aan medisyne, veral in klinieke. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat die medikasie gesteel is.”

Vyf beamptes is verlede jaar in hegtenis geneem en het op 9 September in die Mthatha-landdroshof verskyn. Die saak is tot 7 November uitgestel. Nozibele Nqunqa, Nolitha Kanise en Bantubekhaya Phingilili se hofsaak sal in November begin. Die ander twee het intussen hulself as staatsgetuies beskikbaar gemaak.

Kupelo sê die departement werk nou saam met die polisie om seker te maak dat alle oortreders aangekeer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kerneels ·

Daar sal enige iets gesteel word net om geld in die gatsak te sit sonder moeite

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.