Dokters: ‘Selebi kan nie uit hospitaal ontslaan word nie’

Selebi word op 2 Desember na die Jakaranda-hospitaal vervoer nadat hy by sy huis inmekaargesak het. Foto: SAPA

Die veroordeelde voormalige nasionale polisiehoof, Jackie Selebi, is te siek om uit die hospitaal ontslaan te word, het die departement van korrektiewe dienste Vrydag gesê.

Die kommissaris van korrektiewe dienste, Tom Moyane, sê die departement is deur dokters by die Steve Biko-hospitaal meegedeel dat Selebi nie uit die hospitaal ontslaan kan word as gevolg van sy gesondheid nie. “Selebi sal voortgaan om behandeling by die hospitaal te ontvang aangesien sy gesondheid dit nie toelaat dat hy teruggestuur word na die Pretoria Sentraal gevangenis om sy vonnis uit te dien nie.” ʼn Mediakonferensie sal op 28 Desember gehou word waartydens Selebi se dokters, sy gesin en die departement van korrektiewe dienste meer besonderhede bekend sal maak oor sy gesondheid. Die departement sê Selebi word vir “nierverwante-probleme” behandel.

Selebi is Maandagoggend na die Steve Biko-hospitaal vervoer om behandeling te ontvang vir hipertensie en nierprobleme. Hy ontvang glo dialise en is na bewering geskeduleer om ʼn orgaanoorplanting te kry as gevolg van komplikasies met diabetes. Selebi is op 12 November ook na die Steve Biko-hospitaal geneem vir mediese toetse. Selebi is op 5 Desember in die Pretoria Sentraal gevangenis se hospitaalafdeling opgeneem nadat hy sy 15 jaar vonnis vir korrupsie moes begin uitdien. Selebi is eers in die Jakaranda hospitaal behandel nadat hy op 2 Desember by sy huis in Waterkloof inmekaargesak het toe die hoogste hof van appèl sy aansoek om sy vonnis ter syde te stel, van die hand gewys het. Daar is vroeër berig dat Selebi na die Johannesburgse gevangenis, ook bekend as “Sun City”, oorgeplaas sal word sodra sy toestand verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.