Donker naweek lê voor vir JHB

gloeilamp 2Krag is Vrydag na Lawley en Lenasia South herstel terwyl ander dele van Johannesburg dalk die naweek nog sonder krag moet spandeer.

“Dit sal hoogstens twee tot drie dae lank duur om krag na al die gebiede van Johannesburg te herstel,” het City Power gesê. Die maatskappy het Donderdag dieselfde vooruitsig gegee, maar het Vrydag gesê werknemers werk onophoudelik om seker te maak dat krag na die onderskeie voorstede herstel word.

Gedeeltes van die Wes-Rand en die noorde van Johannesburg het kragonderbrekings ervaar toe werknemers van Woensdagmiddag af begin staak het. City Power sê die staking word nie deur ‘n vakbond gelei nie. Die werknemers is glo ongelukkig oor ‘n skofsisteem wat die kragvoorsiener in werking gestel het.

Maroela Media het vroeër berig dat sabotasie deur stakende werkers die wye kragonderbreking veroorsaak het. Verkeersvloei en sommige besighede word deur die kragonderbreking geraak. Dit wou voorkom of daar met een substasie gepeuter is en dat toerusting by ‘n ander met die hand afgeskakel is. Die polisie sal ondersoek instel en sekuriteitswagte is aangestel om die substasies dop te hou.

City Power maak van kontrakteurs gebruik om die probleem op te los.

Krag is Donderdagmiddag herstel na Hursthill en Mayfair-substasies wat Aucklandpark, Bosmont, Crosby, Emmarentia, Mayfair, Northcliff, Rosebank, Riverlea en die Westdene-gebied van krag voorsien. Die substasies by Cydna, Alexandra en Gresswold wat krag voorsien aan Athol, Alexandra, Bramley, Hyde Park, Melrose, Riverpark, Tsutsumani en die Wynberg-gebied is ook herstel.

City Power het Vrydagoggend egter gesê die kragtoevoer na inwoners se huise in gebiede soos Northcliff moet nog herstel word, ondanks die vooruitgang wat gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Seg Net ·

So nege maande vanaf hierdie naweek behoort die hospitale se kraam afdelings redelik besig te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.