Donkievleis glo in SA-produkte

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Stellenbosch het onlangs bevind daar is onder andere donkie-, waterbuffel- en bokvleis in Suid-Afrikaanse vleisprodukte.

Die universiteit het Maandag op hul webwerf berig Suid-Afrikaanse verbruikers word ook met vleisprodukte verneuk.

Die uitslag kom te midde van ʼn internasionale storm nadat daar bevind is dat verskeie vleisprodukte wêreldwyd nie ooreenstem met dít wat op die verpakking aangedui is nie. Veral die Britte is warm onder die kraag nadat bewys is dat “100% beesprodukte” perdevleis bevat.

Die universiteit se studie, wat reeds in Desember 2012 gedoen is, bevind dat enigiets van soja-, donkie-, bok- en waterbuffelvleis in 68% van die 139 vleisprodukte gevind is. Die vleisprodukte is onder andere maalvleis, hamburgers, delivleis, wors en gedroogde frikkadelle. In sommige gevalle is onverklaarde plantmateriaal ook gevind. “Hierdie bestanddele is nie op die verpakking aangedui nie,” lui die berig.

ʼn Studie is al verlede jaar in die Food Cotrol Journal gepubliseer en is uitgevoer deur dr. Donna Cawthorn en prof. Louw Hoffman, voedselwetenskaplikes aan die universiteit.

Die wetenskaplikes het 139 vleismonsters van verskeie slaghuise in Gauteng, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Wes-Kaap geneem, en met 95 van dié monsters het die vleis nie met die spesie, soos aangedui, ooreengestem nie.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Paul Joubert ·

Daar is nogal ‘n groot verskil tussen ‘n produk wat onverklaarde soja bevat, en een wat ‘n onverklaarde ander vleissoort bevat.
Dit sou interessant wees om te weet hoeveel van die 95 produkte het eintlik maar net onverklaarde soja bevat.

Paul Joubert ·

Wat ook in die studie genoem word, wat waarskynlik ook ‘n klomp mense, veral Jode en Moslems, sal ontstel, is dat in 37% van die monsters wat geneem is, onverklaarde varkvleis gevind is.

herrie ·

Jare gelede was daar in Pretoria ook ‘n storm toe die WNNR bevind het “Boerewors” bevat oa ‘n onidentfiseerbare stof.

Melissa ·

Ek hoor juis vanoggend Biltong word ook gemislabel: “Of the 146 samples tested over 100 contained undeclared meat species. All the samples marked beef were correctly labelled, but for the most badly labelled case 92 percent of packets of kudu biltong contained different species such as horse, giraffe, pork beef and even kangaroo.”

Dankie tog ek eet nie meer diere nie, dink net gou as sulke goed weggesteek word, word die mishandeling van die diere wat geteel word vir vleis ook weggesteek!

Melissa ·

@Paul Joubert

Of the 139 samples tested, 95 (68%) contained species which were not declared on the product labelling. The scapegoats in general were sausages, burger patties and deli meats.

Soya and gluten were found in 28% of the samples, without being identified specifically as plant material on the labels of the specific meat products.

Paul Joubert ·

Hi Melissa

Ek het intussen die volledige studie gesien. Donkievleis is in slegs een van die produkte gevind, ‘n wors wat in KZN verkoop is as “quality sausage” by ‘n slaghuis.

Dis maar grootliks ‘n berg wat van ‘n molshoop gemaak word oor hierdie ding. Dis maar grootliks net oor soja, krummels, varkvleis en hoendervleis wat nie verklaar word nie, maar enigiemand met smaakkliere kan tog proe as goedkoop maalvleis of burgers vol soja of hoender is.
Waterbuffel (slegs in 4 produkte gevind) is baie naby familie van ‘n bees, so wat die probleem daarmee is, weet ek nie. Met bokvleis (ook slegs in 4 produkte gevind) is daar ook niks verkeerd nie.

Ek sien daar is ook nou ‘n “wildsbiltong-skandaal”. Weereens – is enigiemand verbaas dat spesies van kommersiëel-geproduseerde wildsbiltong soms of selfs dikwels verkeerd aangedui word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.