Dood van miljardêr se skoondogter ‘n raaisel

Hans en Eva Rausing

Die Britse polisie ondersoek die raaisel rondom die dood van Eva Rausing, vrou van die erfgenaam van die Tetra Pak-verpakkingsfortuin.

Rausing (48), een van Brittanje se rykste vroue, is Maandag dood aangetref by die luukse huis wat sy saam met haar man, Hans Kristian Rausing in Londen sy rykmanswoonbuurt, Belgravia, gedeel het.

Beamptes het Maandag op Rausing se liggaam afgekom toe hulle die vyfverdiepinghuis deursoek het nadat hulle ‘n 49-jarige man, glo haar eggenoot, vir die onwettige besit van dwelmmiddels in hegtenis geneem het.

Die man word ook verdink van die moord, maar hy is intussen na ‘n mediese sentrum geskuif waar hy behandeling ontvang, het die polisie gesê.

‘n Woordvoerder vir Scotland Yard het gesê hy kan nie bevestig of die verdagte Hans Kristian Rausing is nie. Rausing sal sy Sweedse pa se multi-miljard dollar (sowat $6.7 miljard)-fortuin erf.

Die dood word tans as “onverklaarbaar” hanteer, het die polisie in ‘n verklaring gesê. ‘n Nadoodse ondersoek kon nie amptelik die oorsaak van haar dood bepaal nie, en verdere toetse sal gedoen word.

Eva en Hans Kristian Rausing was beide aktiewe filantrope en het ‘n luukse lewenstyl gehandhaaf. Hulle het die meeste van hul tyd in hul 11-slaapkamer herehuis in Barbados spandeer, maar was ook bekend vir hul probleme met dwelmmiddels. Die paartjie, wat vier tienerkinders het, het by ‘n kliniek vir dwelmverslaafdes in Amerika ontmoet en het in 2008 met die gereg gebots toe Eva probeer het om kokaïen en heroïen tydens ‘n funksie by die Amerikaanse ambassade in Londen in te smokkel. “Ek het ‘n baie groot fout gemaak, en ek is baie spyt daaroor,” het Eva in daardie stadium in ‘n verklaring bely.

Die slanke, blonde Eva was die dogter van Tom Kemeny, ‘n welgestelde hoof van Pepsi in Amerika. Haar ouers is “baie hartseer oor die afsterwe van hul dogter”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.