Doodstraf vir Chinese arts wat babas verkoop

Zhang Shuxia Foto: thechinavoice.com

Zhang Shuxia Foto: thechinavoice.com

ʼn Chinese verloskundige is die doodstraf opgelê nadat sy sewe pasgebore babas gesteel en dit aan mensehandelaars verkoop het.

Zhang Shuxia het die ouers van die pasgebore babas oortuig dat hul babas siek is of reeds gesterf het. Sy het die babas dan vir tot soveel as 47 000 yuan (ongeveer R84 000) verkoop, berig The Australian.

Die hof het bevind dat Zhang ʼn ma verlede jaar oortuig het om haar pasgebore tweelingdogters op te gee, aangesien die een glo reeds aan ʼn siekte gesterf het, en die ander een glo beseerde arms en bene gehad het.

Een van die babas wat sy verkoop het, is later in ʼn sloot opgespoor. Een van die mensehandelaars het die baba weggegooi, het die hof gesê.

Zhang het 20 000 yuan (byna R36 000) vir elke babadogtertjie gekry en mensehandelaars het in 2011 R84 000 betaal vir een babaseuntjie.

Van die babas wat ontvoer is, is later deur die polisie opgespoor en aan hul ouers terugbesorg.

Zhang is voorwaardelik die doodstraf opgelê, en die hof het gesê haar optrede het ʼn “negatiewe impak op die samelewing” gehad. In China word voorwaardelike doodstraf gewoonlik na lewenslange gevangenisstraf omgeskakel.

Drie senior beamptes en verskeie ander personeellede by die hospitaal is ook afgedank ná die skandaal op die lappe gekom het.

Tien duisende kinders word glo jaarliks in China gesteel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Kan dieselfde nie maar in SA ook gebeur nie? Die doodstraf vir moord en aanranding en ook mishandeling en molestering en verkragting op klein babatjies en kinders.

Waarom mag iemand bly lewe as hy/sy vir ‘n klein babatjie en kindjie se dood verantwoordelik was?

william ·

In Suid Afrika kom mense weg met moord omdat ons n regering het wat nie omgee nie. Moordenaars en verkragters kry te maklik borg en die parool stelsel laat veel te wense oor. In baie gevalle neem mense die reg in eie hande want die polisie reageer nie soos hulle moet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.