Dooie babatjie in asblik in spogbuurt gevind

ʼn Grusame ontdekking is vanoggend in ʼn spogbuurt in Pretoria gemaak toe die liggaam van ʼn pasgebore baba seuntjie in ʼn asblik ontdek is.

Volgens adjudant-offisier Annabelle Middelton, ʼn woordvoerder van die Brooklyn-polisie, is die liggaam Woensdagoggend in ʼn munisipale-asblik in Nutmeglaan, Newlands, gevind.

“Die huiseienaar het die oggend omstreeks 08:00 sy vullisdrom vir verwydering uitgesit. ʼn Rondloper het omstreeks 10:00 deur die asblik gegaan en op die liggaam afgekom. Die nooddienste is ontbied,” het Middelton aan Maroela Media gesê.

Volgens Jeffery Wicks, ‘n woordvoerder van Netcare911, het paramedici met hul aankoms die baba se lewelose lyfie in ʼn plastieksak gekry. Hy is op die toneel dood verklaar.

Middleton het gesê die baba was ten volle ontwikkel. “Alle inligting dui daarop dat die baba vanoggend gebore is. Die persoon wat hom daar weggegooi het, het die huiseienaar se vullissak oopgemaak die baba daar ingegooi en die sak weer toegeknoop.”

Die polisie ondersoek ’n saak van verberging van geboorte en ʼn geregtelike nadoodse ondersoek is aangevra. “As mense in die omgewing van iemand weet wat swanger was en nie meer ʼn babatjie het nie, moet hulle ons asseblief in kennis stel.” Mense met meer inligting kan Middelton bel by 079-695-1386.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.