Water wat met ʼn 180km lange waterpyplyn uit die Rooi See na die Dooie See gevoer gaan word, sal dié besondere soutwatermeer vir die nageslag behoue laat bly. Die Dooie See het oor die afgelope paar dekades weens wateronttrekking uit die Jordaan met sowat 30% gekrimp.
‘n Ooreenkoms tussen Israel, Jordanië en die Palestynse Owerheid is pas deur die Wêreldbank bekend gemaak, nadat dekades lank hieroor onderhandel is.
Die projek waarop nou ooreengekom is, is ‘n baie afgewaterde konsep teenoor dit wat aanvanklik beoog is. Die aanvanklike projek het op die rak beland na ‘n omgewings- en koste-impakstudie deur die Wêreldbank.
Die nuwe projek sal ongeveer ‘n tiende van die oorspronklike projek se watervolume verplaas – sowat 200 miljoen kubieke meter per jaar. Hiervan sal sowat 80 miljoen kubieke meter per jaar by ‘n ontsoutingsaanleg in Jordanië ontsout word, waarvan 50 miljoen kubieke meter vars water aan Israel beskikbaar gestel sal word. In ruil kan Jordanië nog 50 miljoen kubieke meter water per jaar uit die Meer van Galilea onttrek. Jordanië is onder groot druk weens die invloei van sowat ‘n half miljoen vlugtelinge uit Sirië.
Die erg sout uitval van die ontsoutingsaanleg sal ook in die Dooie See gestort word om die soutgehalte van die water te probeer handhaaf. Die ontsouting sal deur die proses van tru-osmose geskied.
Die bouwerk sal na verwagting sowat drie jaar lank duur. Die beraamde koste beloop tussen $500 miljoen en $1 miljard.