Dooie See-rolle nou digitaal

‘n Paar honderd van die bekende Dooie See-rolle wat na raming tussen 150 en 70 voor Christus geskryf is, kan nou aanlyn bekyk en bestudeer word. Die Leon Levy Dooie See-rolle-digitale biblioteek is die gesamentlike produk van die Israelse Antiekegesag en die Googlenavorsings- en Ontwikkelingsentrum in Israel, en is pas bekend gestel.

Die digitale biblioteek het reeds honderde beelde aanlyn geplaas en beoog om uiteindelik al geraamde 930 manuskripte aanlyn te plaas, aldus Popular Archaeology.

Die tegnologie behels besonder hoë gehalte digitale vaslegging – so skerp dat selfs beelde wat nie met die blote oog sigbaar is nie, nou duidelik aanlyn gesien kan word. Die tegniek staan as Mega Vision bekend.

Die Dooie See-rolle is tussen 1946 en 1956  ontdek en word as moontlik die grootste argeologiese ontdekking van die twintigste eeu beskou. 

‘n Navorser het onlangs bevind dieselfde persoon wat verskeie van die Dooi See-rolle neergepen het, was ook verantwoordelik vir verskeie dokumente wat in grotte by Masda gevind is.

Dié bevindings is gemaak deur ‘n Israelse paleo-skrifkundige, Ada Yardeni. Haar bevindings is deur Sidnie White Crawford neergepen, en in die November/Desember 2012-uitgawe van Biblical Archaeology Review gepubliseer.

‘n Gevolgtrekking van die feit dat dieselfde persoon dokumente neergepen het wat in verskeie grotte by Qumran aan die Dooie See gevind is, dui aan dat hy deel van ‘n sekte was. Dit weerspreek die opvatting dat die versameling ‘n Joodse “biblioteek” van nie-sektariese aard was.

Die digitale beelde kan besigtig word by die Leon Levy Dead Sea Scrolls Digital Library.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.