Drakensberg-seunskoorlid ernstig beseer

Foto: ER24 EMS

Nog ‘n foto volg onderaan die berig. ‘n Lid van die Drakensberg-seunskoor is Dinsdagmiddag ernstig beseer in ‘n ongeluk op die N3.

“Dean Cronje, ‘n 12-jarige leerling by die Drakensberg-seunskoorskool, is ernstig beseer in die ongeluk wat omstreeks 15:00 by die De Hoek-tolplaza plaasgevind het,” het Garth Kemp, woordvoerder vir die koor, gesê. “Cronje was saam met sy ouers, André en Lillian Cronje, in hulle voertuig op pad na Johannesburg om aan die One and Only Jennifer Rush-konsert deel te neem.”

Die koor se toerbus, waarin die ander koorlede en personeel gery het, het die Cronje’s se voertuig van agter getref. Diegene wat in die bus gery het, is ongedeerd, maar ontvang berading vir skok.

“Die seun was in die voertuig vasgekeer en meganiese kake moes gebruik word om hom te bevry,” het Vanessa Jackson, woordvoerder vir ER24, gesê. “Paramedici het hom in die voertuig stabiliseer. Hy is na Unie-hospitaal in Alberton geneem. Sy ouers het slegs geringe beserings opgedoen.”

Anton Redlinghuis, hoof van die skool, het gesê verdere besonderhede oor Cronje se toestand sal later bekendgemaak word. “Ons is baie geskok oor die nuus en gaan alles in ons vermoë doen om alle betrokkenes te ondersteun.”

Kemp sê die toerbus is onlangs gediens en alle moontlike voorsorgmaatreëls is getref om ‘n veilige reis te verseker.

Foto: ER24 EMS

Foto: ER24 EMS

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.