Dramastudent geskors omdat hy te oortuigend is

Argieffoto

Argieffoto

Michael Bodomov (17) van Amerika, wat homself vir ʼn dramataak as ʼn hawelose man vermom het, was só oortuigend, dat hy onderwysers om die bos gelei en gevolglik geskors is.

Dramastudente in Pittsburgh moes verlede maand ʼn karakter kies, en vir ʼn dag lank soos dié persoon optree. Bodomov sê hy het ʼn hawelose man genaamd “John” geskep wat verwyder is van sy familie nadat hy sy jonger sussie raakgery het. “John” is ook deur ʼn kenner oortuig om van al sy materiële besittings ontslae te raak. “Ek het ʼn paar jasse en ʼn sweetpakbroek aangetrek,” het Bodomov gesê. Hy het ʼn paar handskoene, waarvan die vingers afgesny is, verskillende skoene en plastieksakkies vir kouse aangetrek. Hy het ink oor sy gesig gesmeer om vuil te lyk.

Bodomov loop gewoonlik skool toe, maar sy ma, Marina, het gereken hy lyk só baie soos ʼn hawelose persoon dat sy hom vroeg die oggend voor die skool se ingang afgelaai het. Die skool se hek was nog nie oopgesluit nie. Hy het toe ʼn alternatiewe ingang probeer en aan die hek geskud. ʼn Onderwyser het hom genader om uit te vind wat die vreemdeling wil hê. “Ek het so bietjie gemompel en gesê ek moet met iemand praat,” het Bodomov verduidelik. Hy sê dis moontlik dat beamptes van die skool dalk sou dink hy is verstandelik ongebalanseerd.

Volgens Bodomov was hy gretig om met sy rol voort te gaan, maar hy wou ook graag vir hulle sê wie hy is. “Ek dink ek het in ʼn stadium vir hulle gesê ek is dalk ʼn student, maar hulle het net gesê dis onmoontlik omdat ek 30 jaar oud lyk en ten minste 10 dae laas gestort het.”

Hy het ook die swartsak vir hulle gewys waarin sy handboeke gebêre is, maar leë bottels in die sak het die beamptes nie oortuig nie. Hulle het die polisie ontbied.

Bodomov het toe met die sak patats vorendag gekom. Die polisie is daar weg en ʼn administrateur het aan hom gesê hy is vir twee dae lank geskors weens ongehoorsaamheid en dat hy versuim het om homself aan die administrateur uit te ken.

Volgens ʼn woordvoerder van die departement in die distrik kan hulle nie kommentaar lewer oor individuele dissipline nie.

“Ek besef die skool was in ʼn ongewone posisie, maar ek dink hulle het oorreageer,” het Bodomov gesê.

Bodomov se ma reken die skool het reg opgetree deur versigtig te wees weens veiligheidsbesware oor onlangse gewelddadige skietvoorvalle by skole in Amerika. “As ʼn vreemdeling met ʼn swartsak by die skool opdaag weet niemand wat kan gebeur nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.