Drastiese toename van internetgebruikers in SA

Die aantal Suid-Afrikaners wat die internet gebruik het drasties toegeneem weens die impak van slimfone en selfone met dié kapasiteit.

Luidens ‘n studie deur die navorsingsmaatskappy World Wide Worx en die howzit-MSN-portaal het internetgebruik in Suid-Afrika met sowat 25% oor die afgelope jaar toegeneem. Teen die einde van 2011 was daar ongeveer 8.5 miljoen internetgebruikers in Suid-Afrika teenoor 6.8 miljoen in 2010. Na verwagting sal dié syfer tot meer as 10 miljoen gebruikers toeneem teen die einde van 2012.

“Toetrede tot die mark nader nou 20% en vir die eerste keer kan ons sien hoe die mark toenemend digitale instrumente op hul selfone begin gebruik,” het Arthur Goldstuck,  besturende direkteur van World Wide Worx gesê. 

Luidens die studie het sowat 7.9 miljoen mense toegang tot die internet deur hul selfone bekom en 2.48 miljoen gebruikers het nie toegang tot rekenaars nie. Sowat 6 miljoen mense bekom toegang tot die internet deur rekenaars, skootrekenaars en tabletrekenaars. meeste van dié gebruikers (90%) het ook van hul selfine gebruik gemaak. 

“Dit het ‘n geweldige impak op media en sosiale netwerke,” het Justin Zehmke, uitvoerende vervaardiger van howzit-MSN gesê. “Dit beteken dat, in die volgende paar jaar, alle dienste wat aanlyn aangebied word ook op selfone aangebied sal moet word.”

Data-koste word ook verlaag deur die toenemende aantal ondersese kabels wat sub-Sahara Afrika met die res van die wêreld verbind. Die studie toon dat die kabelkapasiteit na Suid-Afrika teen die einde van 2011 sowat 2.69 terabits per sekonde (Tbps) was en sal na verwagting tot 11.9 Tbps styg teen die einde van 2012. “Die kapasiteit behoort weer in 2013 te verdubbel,” het Goldstuck gesê. Datakoste sal dus verlaag wat tot selfs ‘n groter aanvraag sal lei, het Zehmke gesê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.