Drawwer en polisie kan nie skik nie

Chumani Maxwele Foto: Tracey Adams, IOL

Skikkingsamesprekings het ʼn dooiepunt bereik in die siviele saak van ʼn drawwer wat in hegtenis geneem is nadat hy glo pres. Jacob Zuma se motorkade met ʼn handgebaar beledig het, het die Cape Times Dinsdag berig.

Chumani Maxwele dagvaar glo die polisiedepartement vir R1.45 miljoen nadat hy glo in een van die voertuie van die konvooi gedruk is terwyl hy in Februarie 2010 in De Waal-rylaan gedraf het. Volgens die berig is hy in hegtenis geneem, vir 24 uur lank aangehou en later vrygelaat sonder dat hy in die hof verskyn of aangekla is.

Maxwele ontken dat hy ooit die onwelvoeglike handgebaar gewys het, en voer aan hy het sy hand gewaai omdat die sirenes oorverdowend was.

Die koerant berig die saak sou Maandag aangehoor word, maar omdat die partye glo die saak wou skik het die saak nie in die hof voorgekom nie. ʼn Ooreenkoms kon egter nie bereik word nie.

Dit is nie duidelik of die saak nou hof toe sal gaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.