Dreigemente van Korkie-ontvoerders

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Gesprekke oor Pierre Korkie se vrylating fokus glo op die losprysgeld. Korkie is die Bloemfonteinse onderwyser wat gyselaar gehou word in Jemen.

“Hulle fokus op die geld,” het dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van Gift of the Givers, Dinsdag gesê. “Hulle het Dinsdagoggend met een van die leiers gesels. Hulle het weer oor geld gepraat,” het hy in ʼn SMS aan Sapa gesê.

Sooliman sê Anas al-Hamati, die organisasie se kantoorbestuurder in Jemen, het Maandagaand persoonlik met die ontvoerders begin onderhandel. Die ontvoerders word verbind aan Al-Kaïda. “Terwyl Anas by hulle was, het een van die Al-Kaïda-ouens my gebel en hy wou weet wat is die probleem. Ek het gesê daar is nie geld nie, die prys is te hoog en die tyd is te kort,” het Sooliman gesê.

“Anas het dieselfde punte met hulle bespreek. Hulle het bly sê dat, indien ons nie die geld teen Vrydag het nie, dit die einde vir Pierre sal wees. Hulle sal vandag [Woensdag] weer vergader.”

“Yolande Korkie, Pierre se vrou, het Maandagmiddag by OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg geland,” het Clayson Monyela, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê.

Die egpaar is in Mei 2013 in Taiz ontvoer. Yolande is verlede week met behulp van Gift of the Givers vrygelaat.

Sooliman het Maandag gesê Al-Hamati sal Pierre se paspoort aan die ontvoerders toon om te bewys dat hy ʼn Suid-Afrikaner is en dat die losprysbedrag dus buitensporig is. Pierre en Yolande is glo ontvoer omdat die ontvoerders hulle vir Amerikaanse toeriste aangesien het.

Die ontvoerders het verlede Vrydag binne agt dae ʼn bedrag van $3 miljoen (nagenoeg R32.5 miljoen) vir Pierre se vrylating geëis.

Sooliman sê Yolande sal haar nou op ʼn veldtog in Suid-Afrika toespits om geld in te samel vir Pierre se vrylating.

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.