Drevin se pa, Gunther, het op ʼn Facebook-blad wat geskep is na sy seun se verdwyning gesê: “Ek skryf nou met ’n gebroke hart, maar die gebeure van Saterdagoggend volgens die “harde” bewyse is: Richard is op een of ander wyse of om een of ander rede saam met vreemde mense in ‘n motor gewees. Hulle het hom langs die pad afgelaai – hy het uitgeklim. ‘n Ruk later het die Metro polisie hom op die hoek van Pretorius- en Festivalstraat sien lê en die ambulans ontbied. Die ambulans het hom net voor 3:00 hospitaal toe geneem waar hy om 5:30 dood verklaar is.” Drevin sr. sê daar was kneusplekke op sy seun se gesig maar dat die nadoodse ondersoek geen oorsaak van dood kon vind nie. “Verdere toetse word nog gedoen om die oorsaak van Richard se dood te probeer vasstel. Met die ondersoek is wel bevind dat hy ‘n vergrote hart gehad het – natuurlike oorsake vir sy dood word dus nie uitgesluit nie.” Drein sr. sê sy seun se selfoon is glo by een van die beskuldiges gevind en dat sy beursie en horlosie steeds weg is.
Maroela Media het vroeër Donderdag berig dat die polisie nie langer ʼn klag van moord ondersoek nie. Drie mans is vroeg Dinsdagoggend in Eersterust in hegtenis geneem in verband met Drevin se dood. Winslow Elrico Isaac (22), Vaughn Herrings (23), en sy broer Enrico Herrings (20) het Woensdag in die hof verskyn waar aanklagte van moord en roof voorwaardelik teruggetrek is. Drevin is glo Vrydagnag in Hatfield ontvoer. Sy ma, Lynette het vroeër aan Maroela Media gesê dat ʼn vreemde persoon haar seun se selfoon geantwoord het toe vriende hom probeer bel het. “Hy het vir hulle gesê Richard is siek en dat hy in die badkamer is. Toe hulle daar kom was hy egter nie daar nie en toe hulle weer bel het die persoon gesê Richard is saam met hulle by ʼn ABSA-OTM.” Richard se foon was sedert Saterdagoggend af en is daar glo twee kontantonttrekkings uit sy bankrekening gemaak.
Drevin laat ook sy 20-jarige sussie en 8-jarige boetie agter. Sy ouers is albei dosente in rekenaarwetenskap op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.