Die polisie het Maandag hul hande vol gehad met drie afsonderlike betogings naby Johannesburg, Durban en Kaapstad.
In Kaapstad moes die polisie rubberkoeëls en traangas gebruik om ‘n groot groep van nagenoeg 1000 betogers in Gugulethu uiteen te jaag. Frederick van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê een persoon is vir openbare geweld in hegtenis geneem. Inwoners het verskeie strate met gebreekte lamppale, rommel en stene versper. Die inwoners betoog glo teen elektrisiteitsprobleme.
In Johannesburg is gedeeltes van die Goue-hoofweg, suid van Johannesburg, deur betogende inwoners van Orange Farm versper. Lungelo Dlamini, ‘n polisiewoordvoerder, het gesê die pad is met klippe en motorbande versper. Die betoging hou glo verband met gebrekkige dienslewering.
In Umbumbulu, suid van Durban, het 260 mense opgeruk om teen taxi-tariewe te betoog. Luitenant-kolonel Vincent Mdunge, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die polisie moes omstreeks 06:00 stene en motorbande van die R603-pad verwyder.