Drie beseer tydens rooftog by winkel

‘n Rower is doodgeskiet en drie mense is beseer na ʼn rooftog by die Pick en Pay in Radiokop, wes van Johannesburg.

ʼn Bende van 14 gewapende mans het omstreeks 19:00 Donderdagaand die winkel binnegestorm en personeel en klante beveel om op die grond te lê. Lt. kol. Katlego Mogale, ʼn polisiewoordvoerder, sê die rowers het kontant uit die kasregisters gesteel. Die polisie is in kennis gestel en het op die toneel opgedaag terwyl die rowers steeds besig was. “Toe die rowers besef die polisie is op die toneel het hulle losgebrand.” ʼn Polisieman, ʼn personeellid van Pick en Pay en ʼn persoon buite die winkel is tydens die skietery gewond. Mogale sê die polisie het een van die rowers doodgeskiet. Die ander rowers het in twee kombi’s gevlug. Die polisie het een van die kombi’s by ʼn woonplek in Benrose opgespoor en vyf verdagtes is in hegtenis geneem. Die polisie soek steeds na die ander verdagtes. Dit is nog nie duidelik met hoeveel kontant die rowers weggekom het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.