Drie in hof oor gesteelde kluis

Argieffoto

Drie mans wat glo ‘n kluis uit die Alberton-polisiestasie gesteel het, het Dinsdag in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.

“Die saak is tot 18 April uitgestel vir verdere ondersoek. Die mans sal dan om borg kan aansoek doen,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. Luvolwethu Eland (24) Vusumuzi Ximba (44) en Sibuti Petros Mazibuko (27), ‘n polisiekonstabel by die polisiestasie, word daarvan verdink dat hulle die kluis op 22 Maart gesteel het. Al drie mans is laat verlede maand in hegtenis geneem.

Dlamini sê twee ander mans is oor die naweek in Turffontein en Rondebult in Alberton in hegtenis geneem in verband met die diefstal. “Die polisie het beslag gelê op ‘n aansienlike bedrag kontant en ‘n vuurwapen. ‘n Voertuig wat vermoedelik gebruik is om die kluis mee te steel is ook opgespoor. Die kluis is nog nie opgespoor nie,” het Dlamini bygevoeg. “Die polisie soek steeds na die kluis.”

Iemand het met die sekuriteitskamera by die stasie gepeuter. Die kluis het in die stasie se stoor, waar bewysstukke aangehou word, gestaan. “Dit wil voorkom of die diewe die kluis in die gang af gesleep het en dit toe in ‘n voertuig gelaai het.”

Vyf ander polisiebeamptes is geskors vir beweerde wanadministrasie en versuim om aan bestaande opdragte te voldoen. Na verwagting sal nog persone in verband met die diefstal in hegtenis geneem word.

Lt.gen. Mzwandile Petros, provinsiale polisiekommissaris, het gesê sekere prosedures moet gevolg word wanneer kontant as bewyse ingedien word. Kragtens dié reëls moes die geld nooit in die kluis gewees het nie.

‘n Ondersoekspan is tans besig met ‘n oudit by die Alberton-polisiestasie. Voorlopige verslae dui daarop dat ander bewyse, insluitend ‘n voertuig, ook uit die stoor vermis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.