Drie in hof vir nagklub-baas se moord

Bruno Bronn

John Frederick Coetzee, Fareez Allie en Achmat Toffa wat van die moord op nagklubeienaar Bruno Bronn beskuldig word, het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.

Die drie mans het voor regter president John Hlophe verskyn wat aangedui het dat hul hofsaak op 26 Augustus sal begin. Die saak sou Maandag begin het, maar die hof het gehoor dat Toffa ‘n nuwe prokureur gekry het en dat hy moet voorberei vir die hofsaak. Die mans sal op 19 Augustus weer in die hof verskyn om seker te maak dat hulle gereed is om met die verhoor te begin.

Coetzee is op borg van R20 000 vrygelaat en Allie op borg van R5 000. Toffa se borgaansoek is ook goedgekeur, maar hy bly in aanhouding by Pollsmoor-gevangenis op twee onverwante sake.

Bronn (50) is op 7 Februarie 2012 dood aangetref in sy huis in Groenpunt, Kaapstad. Hy is verwurg en versmoor. Hy het die twee gay nagklubs Bronx en Navigaytion in Somersetweg in Groenpunt besit.

Die mans staar aanklagte van moord met voorbedagte rade en roof met verswarende omstandighede in die gesig. Indien die mans skuldig bevind word aan enige van dié klagtes kan hulle tot lewenslange tronkstraf gevonnis word.

Die staat het vroeër aanklagte teen ‘n vierde verdagte, Kurt Erispe, teruggetrek. Die rede sal glo tydens die verhoor bekend gemaak word. Die staat sê hy het ‘n lys van 48 getuies, alhoewel nie al die getuies geroep sal word indien die mans sekere bekentenisse voor die hofsaak maak nie.

Lees ook:
Beskuldigde in Bronn-moordsaak kry borg
Nog twee vas na moord op gayklub-eienaar
Twee vas na moord op gayklub-eienaar
Polisie soek dié man na moord op gayklub-eienaar
Bekende gayklub-baas se lyk in huis gevind

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.