Drie kindermoorde skok Naboomspruit-gemeenskap

Die liggame van drie kinders van Mookgophong (Naboomspruit), Limpopo, is Saterdag gevind nadat hulle van Woensdag af vermis word.

Brigadier Hangwani Mulaudzi het gesê ʼn volskaalse soektog is Maandag hervat om die skuldige vas te trek.

Die kinders, waaronder twee seuns en ʼn meisie, word sedert Woensdag vermis. Bafana Kekana (9), Hosea Richard Kekana (10) en Johana Kekana (12) het by die Montadi-jeugsorgsentrum in die dorp gebly nadat hulle deur maatskaplike werkers daarheen gestuur is. “Hulle het skool gegaan aan die Laerskool Dikobo en is die laaste keer tydens ʼn betoging by die skool gesien. Die betoging was onder meer om aan te dring op meer onderwysers,” het Mulaudzi gesê.

ʼn Voetganger het Saterdag naby die Constantia-vakansieoord op hul liggame afgekom. “Hulle het steeds hul skoolklere aangehad en hul hande en voete was met skoenveters vasgebind. Hulle is met klippe doodgeslaan en dit wil voorkom of die meisie verkrag is. Bebloede stene is langs hul liggame gevind. Die liggame was met ʼn kombers en takke toe gegooi,” het Mulaudzi bygevoeg.

Luitenant-generaal Simon Mpembe, provinsiale kommissaris, het sy woede oor die voorval uitgepreek en gesê die polisie sal alles in hul vermoë doen om die skuldiges aan te keer.

Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.