Drie mense by gastehuis aangeval

ʼn Verdagte is in hegtenis geneem en twee word deur die Limpopo-polisie gesoek nadat hulle glo ʼn vrou by ʼn gastehuis naby Burgerfort verkrag en twee ander gaste oorrompel en beroof het.

Luitenant-kolonel Ronel Otto, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê twee mans, onderskeidelik 22 en 33 jaar oud, en die 21-jarige vrou het by die gastehuis aangebly toe drie gewapende mans hulle Dinsdag omstreeks 18:00 oorrompel het.

Die mans het die slagoffers met skoenrieme vasgebind. Terwyl die rooftog aan die gang was, het ʼn struweling uitgebreek. Die 22-jarige man is in die proses in die lies geskiet. Na die skoot afgegaan het, het ander mense op die perseel kom ondersoek instel. ʼn 30-jarige verdagte is kort daarna aangekeer en aangehou tot die polisie op die toneel verskyn het.

Die ander twee verdagtes het daarin geslaag om in  ʼn Silver Polo Vivo, met die registrasienommer BK 63 BN GP, te vlug. Hulle het met die slagoffers se selfone, klere, bankkaarte en  ʼn skootrekenaar weggekom.

Die 21-jarige is tans in die hospitaal in ʼn ernstige toestand. Die polisie is nog opsoek na die ander twee verdagtes.

Intussen is vasgestel dat  ʼn 375 jaggeweer wat van die verdagte gekonfiskeer is, oor die naweek van ʼn nabygeleë wildsplaas gesteel is.

Die 30-jarige verdagte behoort in die week in die hof te verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.