Drie persone verdrink op Nuwejaarsdag, twee word steeds vermis

Foto: NSRI

Foto: NSRI

Port Elizabeth:
ʼn 23-jarige man het op Nuwejaarsdag by Blouwaterbaai in Port Elizabeth verdrink, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

“Sowat 50 mense, tussen 12 en 24 jaar oud van die Vista Rus-tehuis vir kinders, het geswem toe vyf van hulle deur systrome meegesleur is,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê. “Lewensredders het vinnig reageer en drie van die kinders is gered. Hulle is ongedeerd na die kus gebring.”

Twee van die persone, ʼn 16-jarige en ʼn 23-jarige man was steeds soek.

Volgens Lambinon het lewensredders op ʼn waterponie op die 23-jarige man afgekom. Hy kon nie bygebring word nie en is dood verklaar.

“Die 16-jarige seun word steeds vermis en die toneel is aan die polisie se duikeenheid oorhandig,” het Lambinon gesê.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek gelas.

Kaappunt:
ʼn Vyfjarige het in ʼn getypoel by Buffelsbaai in Kaappunt verdrink. “Die seuntjie, van Khayelitsha, het ná middagete gaan swem,” het Lambinon gesê.

Lede van die publiek het hom in die swembad opgespoor en met KPR begin terwyl hulle hulp ontbied het. Paramedici het ook tevergeefs probeer om die kind by te bring. “Hy is op die toneel dood verklaar.”

Die polisie sal ʼn geregtelike doodsondersoek doen.

Kalkbaai:
“ʼn 43-jarige vrou van Delft het by die Kalkbaai-hawe verdrink,” het Lambinon bygevoeg. Die span van NSRI Simonstad en Kaapstad se brand- en reddingsdienste is ontbied nadat die vrou, wat in die water gedryf het, opgespoor is. Pogings om haar by te bring was onsuksesvol en sy is op die toneel dood verklaar.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek gelas.

Kalkbaai:
“Kaapstad se brand- en reddingsdienste, Cape Medical Response en paramedici van die provinsiale departement van gesondheid het om 15:33 reageer op berigte van ʼn verdrinking ook by die hawe in Kalkbaai,” het Lambinon gesê. Die volwasse man is uit die water gehaal nadat hy geval en sy kop teen die rotse gestamp het. Paramedici het hom op die toneel behandel en hy is na ʼn hospitaal geneem in ʼn ernstige, maar stabiele toestand.

Langebaan:
NSRI Mykonos was omstreeks 13:30 op ʼn roetinepatrollie in Langebaan toe hulle op ʼn verdrinking in die Bay Hall-gebied afgekom het. “ʼn Omstander het ʼn agtjarige kind, van Langebaan, gered en ʼn reddingsvaartuig van die NSRI het ʼn negejarige, ook van Langebaan, gered,” het Lambinon bygevoeg.

KPR is op beide kinders toegepas en hulle is bygebring. Hulle is na ʼn hospitaal geneem in ʼn ernstige, maar stabiele toestand.

Kampsbaai:
Paramedici van Kampsbaai, ER24 en paramedici van die provinsiale departement van gesondheid het om 14:53 reageer op ʼn verdrinking by Kampsbaai. “Lewensredders het ʼn vrou, in haar 20s, uit die water gehaal en sy is op die toneel behandel vir verdrinkingsimptome. Die Skymed-helikopter is ontbied en die vrou is in ʼn ernstige, maar stabiele toestand, na die hospitaal geneem.”

Isipingo:
ʼn 22-jarige man word steeds in KwaZulu-Natal in die see vermis en hy het vermoedelik verdrink. “Hy het Woensdagmiddag by Isipingo-strand gaan swem,” het Chris Botha, woordvoerder vir Netcare911, gesê. Hy was saam met ʼn paar vriende toe hulle in ʼn systroom beland en in die see meegesleur is. Lewensredders kon een man uit die water haal, maar die ander man het onder die water verdwyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.