Drie pleit onskuldig op bejaarde PTA-vrou se moord

‘n Sekuriteitswag en twee ander mans het Dinsdag ontken dat hulle ‘n bejaarde vrou van Duitsland twee jaar gelede in haar huis in die ooste van Pretoria vermoor het.

Amos Foromane Mokgabudi, Frans Madiba en Bashimane Brian Mathebe het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria onskuldig gepleit. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle Ute Maria Wiing (70) in Mei 2010 in haar huis in die Silver Mist-kompleks in Equestria vermoor het.

Die drie het ook ontken dat hulle Wiing van, onder andere, rekenaartoerusting, ‘n motor, juweliersware en linne beroof het.

Die staat beweer dat hulle deur ‘n venster ingebreek en haar vasgebind het terwyl hulle haar huis geplunder het. Hulle het glo kledingstukke in haar mond gedruk. Die nadoodse ondersoek het bevestig dat sy verwurg of versmoor is.

Sandra Hinsche, Wiing se dogter, het getuig dat sy haar ma die aand voor haar dood gesien het toe sy en haar twee seuns daar geëet het. Een van haar seuns het agter gebly, en sy het hom omstreeks 22:30 gaan haal. Sy het haar ma die volgende dag probeer skakel, maar geen antwoord gekry nie. Sy het na die huis toe gery, maar aangesien die motor nie daar was nie, aangeneem dat haar ma dalk by vriende gaan kuier het. Hinsche is huis toe en het later met haar seun teruggekeer, aangesien hy glo die rekenaar vir ‘n projek wou gebruik het. Sy het haar spaarsleutel gebruik om toegang tot die huis te bekom.

Hinsche het haar ma tussen ‘n bondel klere op die vloer in haar slaapkamer aangetref. Haar hande en voete was met ‘n tou vasgebind en iets was in haar mond gedruk. Sy was reeds dood.

Die polisie het intussen van die gesteelde goedere, insluitend die motor, opgespoor. Mathebe, wat glo die motor bestuur het, het ook onskuldig gepleit op die aanklag dat hy onwettig in besit was van die motor.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.