Drie mense is dood en sewe ander beseer nadat twee voertuie mekaar Sondagaand reg van voor op die R75-pad naby Uitenhage in die Oos-Kaap getref het.
Chris Botha, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het Maandag gesê die ongeluk het omstreeks 18:40 plaasgevind. “Dit is in die stadium nie bekend wat die ongeluk veroorsaak het nie. Die polisie sal die ongeluk ondersoek,” het Botha gesê. “Albei bane is versper deur wrakstukke en van die slagoffers was in die wrakke vasgekeer. Twee persone was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.”
Botha het gesê die brandweer het die mense uit die wrakke gesny. “Drie mense is kritiek beseer en vyf het ernstige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel gestabiliseer en na nabygeleë hospitale geneem.”
Een van die kritiek-beseerde pasiënte is by die hospitaal dood.