Drie sterf toe vliegtuig in KZN neerstort

Argieffoto

Drie mense is dood toe hul ligte vliegtuig naby Nagle-dam buite Cato Ridge in KwaZulu-Natal neergestort het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare911 sê die ligte vliegtuig het in ‘n bos naby die dam neergestort. Die dam is sowat 50 km vanaf Durban geleë. Paramedici, brandbestryders en die polisie is tans op die toneel.

Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, sê hulle is omstreeks 17:30 van die ongeluk in kennis gestel. Die gebied waar die vliegtuig neergestort het staan ook as die “Vallei van ‘n duisend heuwels” bekend. Drie paramedici van ER24 en ‘n beampte van die brandweer het glo die Cato Ridge-afrit geneem en te voet na die ongelukstoneel begin soek. Hulle het sowat ‘n uur lank deur digte bos teen die berg uitgeklim voordat hulle op die wrak van die vastevlerk-vliegtuig afgekom het. Die paramedici het op die verkoolde lyke van drie mense afgekom, en, weens hul brandwonde kon die beamptes nie bepaal of dit volwassenes, kinders, mans of vroue is nie. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar die plaaslike bevolking, wat die ongeluk sien gebeur het, het gesê daar het swart rook by die vliegtuig uitgekom voordat dit neergestort het.

‘n Volledige ondersoek sal uitgevoer word om die oorsaak van die ongeluk vas te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.