Drie vas na hul PTA-pizzarestaurant beroof

Argieffoto

Veiligheids- en polisiebeamptes van Pretoria het Maandag drie gewapende rowers aangekeer kort nadat hulle ʼn Debonairs Pizza-restaurant in Hatfield beroof het.

Die rowers het die 47-jarige eienaar van die winkel oorweldig, hom vasgebind, in sy kantoor toegesluit, en hom van ʼn onbekende hoeveelheid geld en ander items beroof.

Volgens kapt. Colette Weilbach, ʼn woordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie, sê veiligheidsbeamptes van die Hatfield City Improvement District (CID) het ʼn verdagte voertuig voor die restaurant opgemerk en gaan ondersoek instel. “Twee mans het uit die restaurant gestorm en vuurwapens op die beamptes gerig, en te voet gevlug,” het Weilbach gesê. Die beamptes het die verdagtes agterna gesit, waarna die verdagtes op die beamptes geskiet het. “Dit het egter nie die beamptes afgeskrik nie, en hulle het een van die verdagtes in Burnettestraat in hegtenis geneem, en die ander een in Jan Shobaweg (Duncanweg),” het Weilbach bygevoeg.

Die polisie het beslag gelê op die verdagtes se voertuig en twee vuurwapens. “Een van die verdagtes het geld in sy onderklere probeer wegsteek asook ander besittings wat moontlik van die restauranteienaar beroof is,” het Weilbach bygevoeg.
Polisiebeamptes van die Brooklyn-polisiestasie het later die dag die derde verdagte in hegtenis geneem. Die drie verdagtes, onderskeidelik 31, 33 en 37 jaar oud, is van Katlehong en bly in polisieaanhouding totdat hulle na verwagting Dinsdag in die Hatfield-hof gaan verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.