Kapt. Rulene Kuhn, ʼn polisiewoordvoerder, sê twee van die verdagtes is in hegtenis geneem nadat die K9-eenheid inligting ontvang het dat hulle in Bloemfontein is. “Die twee verdagtes, albei 27 jaar oud, is Maandag in Bloemfontein in hegtenis geneem terwyl ʼn derde verdagte in Trompsburg in hegtenis geneem is. Die polisie het op twee vuurwapens wat glo tydens die moord gesteel is, beslag gelê.”
Johan en Cecile Fourie is Sondag op hul plaas Knoppe, naby Trompsburg, aangeval en vermoor. Die egpaar het Sondagmiddag by hul seun en skoondogter in Trompsburg geëet. Die moordenaars het glo deur ʼn badkamervenster toegang tot die huis verkry en die egpaar ingewag. Die egpaar se liggame is omstreeks 20:00 Sondagaand in hul slaapkamer gekry nadat bure ondersoek ingestel het aangesien die Fouries nie op die roep oor die Marnet-radio reageer het nie. Die egpaar is glo met ʼn byl doodgekap en daar was baie bloed dwarsdeur die huis gevind.
Die drie verdagtes sal Donderdag in die Trompsburg landdroshof verskyn.