Drie vas na moord op “heks”

Drie mense is in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn vrou, wat hulle as ʼn heks aangesien het, doodgemaak het.

Kolonel Vincent Mdunge, ʼn polisiewoordvoerder, sê drie mense, waaronder ʼn tiener, is Sondag in Remi en Lotuspark, in KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem. Speurders van die Amanzimtoti-polisie het hulle aangekeer weens die moord op Ntomikhona Mnguni (40). Mnguni is op 13 Augustus in haar huis doodgeskiet.

“Speurders het ʼn deurbraak in die moordsaak gemaak met die inhegtenisname van ʼn 16-jarige seun, wat glo die vrou geskiet het. Sy inhegtenisname het gelei tot dié van ʼn 35-jarige vrou wat die seun glo aangesê het om Mnguni te skiet. Die vrou het Mnguni verdink dat sy heksery beoefen het,” het Mdunge gesê.

Die derde verdagte, ‘n 60-jarige man, is in hegtenis geneem omdat hy glo ‘n ongelisensieerde vuurwapen vir die moord verskaf het.

“Die vuurwapen gaan vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit met die moord verbind kan word,” het Mdunge bygevoeg.

Die drie verdagtes moet vandeesweek in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.