Twee tieners en ‘n man is in hegtenis geneem vir die moord op ‘n 17-jarige huishulp en die aanval op ‘n bejaarde egpaar in Mohadin, Potchefstroom.
“Die verdagtes het glo oor die heining van die egpaar se huis gespring,” het kapt. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie in Noordwes, Sondag gesê.
Die aanval het Donderdag plaasgevind. Die twee tieners en die 28-jarige man, wat glo met ‘n mes en ‘n vuurwapen bewapen was, het glo die 68-jarige vrou oorweldig. Hulle het haar geblinddoek en haar en haar 71-jarige man vasgebind. Hulle het die huishulp in die buitekamer aangetref en haar verskeie kere met ‘n skerp voorwerp gesteek. Klik hier om meer te lees.
Die drie het die huis geplunder, ‘n selfoon en kredietkaart gesteel en gevlug.
“Die motief vir die aanval is roof,” het Makau gesê.
Die mans is Saterdag in hegtenis geneem en sal Dinsdag in die Potchefstroom-landdroshof verskyn.