Drie vas vir Sanders-moord

Corrie Sanders, net nadat hy Wladimir Klitschko in Maart 2003 uitgeklop het, en die WBO kampioen geword het.

Drie mans van Zimbabwe is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moord op Corrie Sanders. Sanders, ‘n voormalige swaargewigbokskampioen, is die naweek tydens ʼn rooftog by ʼn restaurant doodgeskiet.

Die 46-jarige bokser was Saterdagaand by die Thatch Haven Country Lodge in Brits om sy broerskind, Michael Sanders, se 21ste verjaardagpartytjie te vier, toe rowers opgedaag en lukraak begin skiet het. Die rowers het klante by die restaurant van hul persoonlike besittings beroof. Sanders is tydens die voorval in die maag en hand geskiet en het Sondagoggend in die Kalafong-hospitaal aan sy beserings beswyk.

Brigadier Thulani Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die verdagtes is in ʼn informele nedersetting naby Brits vasgetrek. “Van die besittings wat tydens die voorval gesteel is, is in hul besit gekry. Dit verbind hulle met die voorval,” het Ngubane gesê.
Die verdagtes moet Maandag in die Brits-landdroshof verskyn. Sanders se begrafnis sal Maandag vanuit die NG Kerk Wonderpark in Akasia, Pretoria-Noord plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.