Drie vas vir sluipmoord op oud-spioen

Patrick Karegeya

Patrick Karegeya

Drie mans van Rwanda is in hegtenis geneem vir die onlangse moord op die voormalige spioenhoof van Rwanda, Patrick Karegeya, het The New Age Woensdag berig.

Karegeya (53) het vir verskeie jare in ballingskap in Suid-Afrika gewoon. Karegeya se liggaam is verlede Woensdag omstreeks 17:30 in sy luukse hotelkamer in die Michelangelo Towers in Sandton, Johannesburg, aangetref.

“Lt.kol. Francis Gakwere van Rwanda is een van die drie mans wat in Maputo, Mosambiek, in verband met die moord in hegtenis geneem is,” het Chad Thomas, ʼn privaatspeurder, aan die koerant gesê. “Gwakere was ook een van die hoofverdagtes in die mislukte sluipmoordaanval op genl. Kayumba Nyamwasa in 2010, maar daar was toe nie genoegsame bewyse om hom te vervolg nie.”

Drie verdagtes is nog soek in verband met Karegeya se moord.

David Batenga, Karegeya se broerskind, het gesê die laaste keer wat hy sy oom gesien het, was saam met ʼn familievriend, Apollo Kiririsi, by die hotel. The New Age berig dat Kiririsi sedert die voorval in Rwanda gewaar is, en dat hy enige betrokkenheid by die moord ontken.

Lt.genl. Kayumba Nyamwasa, die voormalige weermaghoof van Rwanda, is een van talle wat Rwanda se president, Paul Kagame, beskuldig dat hy die sluipmoord gereël het. Kagame het dié beweringe ontken.

– SAPA

Lees ook:
Polisie soek steeds na oud-spioen se moordenaar
Oud-spioen van Rwanda in JHB vermoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.