Drieling-ma kry nog ‘n drieling

Rebecca Phejane met haar drieling Foto: Boitumelo Tshehle, Sowetan

ʼn Vrou van Noordwes het Woensdag geboorte geskenk aan haar tweede drieling, het die Sowetan Maandag berig.

Rebecca Phejane van Mahikeng in Noordwes sê sy voel geseënd om ses kinders te hê, maar wonder hoe sy oor die weg gaan kom. Phejane is werkloos en bly saam met haar werklose moeder. Sy is afhanklik van ʼn staatstoelaag en die vader van die drieling wat ʼn kontrakwerker by Impala Platinum Mine is. Omphile, Olerato en Omolemo (twee dogtertjies en ʼn seuntjie) het elk meer as twee kilogram geweeg. Hulle is normaal en gesond. Haar eerste drieling, Oratile, Onthatile en Letlotlo (ook twee dogtertjies en ʼn seuntjie) is nou vier jaar oud. Phejane sê sy het een kind tydens haar tweede swangerskap verwag, maar was uit die veld geslaan toe die ginekoloog haar meedeel dat dit weer ʼn drieling is. “Ek het nie geweet hoe om te reageer nie. Ek het geweet ek het gesukkel om my drie kinders te versorg en ek wou nie weer deur dié pyn en lyding gaan nie,” het die ma van ses gesê. “Daar is geen rus nie. Daar is geen mama nie. Ek voel die heeltyd siek. Dis alles oor die babas.” Haar dokter, dr. Mahommad Saeed Mather gesê Phejane se geval is uiters seldsaam en een in ʼn miljoen. Volgens Mather is meeste veelvoudige geboortes die gevolg van kunsmatige inseminasie. “Om natuurlik ʼn drieling te verwag is seldsaam, maar om ʼn tweede stel drieling te verwag is uiters seldsaam. Rebecca is geseënd om drie gesonde babas te baar.” Phejane het slegs matriek en sy sal graag verder wou studeer. Sy is op soek na enige hulp om haar babas te help versorg. “Dit hoef nie geld te wees nie. Ek het fisiese hulp nodig, en indien enigiemand weggooidoeke of formulemelk of klere kan skenk sal ek dit hoog op prys stel,” het die ma van ses gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.