DRK-geweld: Pastoor eis president se uittrede

Die pastoor wat blameer word vir ʼn vlaag ernstige geweld in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), het Dinsdag geëis dat die president uittree, en het ontken dat hy uit die land gevlug het.

“Dit is onaanvaarbaar dat ʼn uitlander die staatshoof is,” het die pastoor, Joseph Mukungubila Mutombo, telefonies vir AFP gesê. Hy het verwys na vyande van president Joseph Kabila se aantygings dat die president Rwandees is.

Dit volg op vroeëre gerugte dat die pastoor, wie se ondersteuners verantwoordelikheid aanvaar het vir die vlaag aanvalle Maandag in die DRK, landuit gevlug het. Die dodetal in dié aanval is reeds meer as 100. In reaksie op die aantygings dat hy landuit is, het Mukungubila telefonies gesê dis “nie korrek nie”. Hy wou egter nie meer inligting gee oor waar hy hom bevind nie.

Mukungubila het in die Kabila sonder sukses teengestaan in die 2006 presidensiële verkiesing, en maak na bewering daarop aanspraak dat hy ʼn profeet is wat deur God gestuur is om Kabila se presidentskap tot ʼn einde te bring.

103 mense is in Maandag se aanvalle dood, waarvan 95 terroriste en agt lede van die DRK se gewapende magte is.

Kongolese veiligheidsmagte het Maandag skynbaar gekoördineerde aanvalle in die hoofstad Kinshasa en ander stede teengestaan.

Gewapende jeugdiges, wat na bewering ondersteuners is van die pastoor wat president Joseph Kabila sewe jaar gelede in die verkiesing teengestaan het, het die staat se televisiestasie, die N’djili Internasionale Lughawe en die militêre hoofkantore bestorm. Orde is intussen by al dié instellings herstel.

Verskeie van die mans wat vir die aanvalle in hegtenis geneem is, was na bewering voorheen betrokke by geweld, en sal dus nie weer, soos tydens die vorige aanvalle, vir amnestie in aanmerking kom nie.

Intussen het die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge die rebelle-aanvalle in die DRK ten sterkste veroordeel. Volgens die regering verwerp hulle die gebruik van geweld wat dreig om die DRK te destabiliseer en vredespogings in die wiele te ry.

“Suid-Afrika sal aanhou om die rol van die SAOG (Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap), die AU (Afrika-unie) en die VN (Verenigde Nasies) te ondersteun in hul pogings om vrede en stabiliteit in die DRK te bewerkstellig,” het Lambert Mende, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse regering, gesê.

 

Joseph Mukungubila Mutombo

Joseph Mukungubila Mutombo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsabe ·

Raak ontslae van die ‘pastoor’ en vrede sal neerdaal.
Enige skurk skuil deesdae agter die ‘Pastoor’ titel om sy dade van geweld en terreur voort te sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.