‘Dronk’ LP ontken gerugte

Dirk Feldman, die Cope-LP wat Saterdagaand glo op ’n SAL-vliegtuig onderweg na Indië die nooddeur wou oopmaak, het gerugte ontken dat hy tydens die voorval dronk was.

Maroela Media het Maandag berig dat dié parlementslid op ʼn vlug tussen Johannesburg en Mumbai, Indië, glo die vliegtuig se nooddeur wou oopmaak terwyl dit steeds in die lug was.

Feldman was na die voorval vir ʼn kort rukkie deur Indiese owerhede aangehou. Hy was in Indië op ‘n amptelike besoek saam ander parlementslede en is kort na hul aankoms teruggestuur Suid-Afrika toe. Feldman het Woensdag in die land geland, berig EWN.

Hy het alle navrae na Dennis Bloem, Cope se hoofsweep, verwys.

Volgens Bloem het hy telefonies vlugtig met Feldman gesels ná hy geland het. Feldman het aan Bloem gesê hy het slegs ʼn woordewisseling met ʼn lugwaardin gehad. “Hy het aan my gesê niks het verder in die voorval gebeur nie en dat die voorval ver van enige deur of venster plaasgevind het,” het Bloem gesê.

Die party het Feldman vir ʼn skriftelike verslag gevra. Hulle wag ook vir ʼn formele verslag van die presidensie voor hulle oor Feldman se lot sal beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.