“Dronk” polisieman bots glo teen gesin se motor

ʼn Man van Umhlanga sê hy sal nie rus voor ʼn “dronk” polisieman wat in sy motor vasgery en sy vrou en dogter beseer het, in hegtenis geneem word nie.

The Witness berig dat Austin Steyn (41) Sondag saam met sy vrou en dogter in Durban gery het toe ʼn polisiemotor agter in hulle motor vasgery het. Sy dogter, Courtney (7), is uit die motor teen ʼn muur vas geslinger. Steyn het sy dogter te hulp gesnel en gesien hoe mense die gesin se waardevolle items uit die motor steel. “Ek het gedink hulle wil ons help, maar hulle het my skootrekenaar, kamera, selfoon en kredietkaarte uit my beursie gesteel.” Nadat hy sy dogter gehelp het, het Steyn na die polisiemotor geloop en gesien die polisieman is glo so dronk dat hy nie eers kan loop nie. Die polisie en paramedici het kort hierna op die toneel opgedaag. Steyn sê die polisie het die beampte getoets en bevind hy was onder die invloed van alkohol. Daar is ook ʼn bloedtoets gedoen wat glo ook bevind het dat die polisiebeampte oor die wettige bloedalkoholvlak was. Sy vrou. Lisa, moes intussen ʼn operasie aan haar nek ondergaan terwyl Courtney na die ongeluk nie kon loop nie weens haar beserings. ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Thulani Zwane, sê hulle ondersoek ʼn saak van dronkbestuur en roekelose en nalatige bestuur.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.