“Droomvakansie” toe eintlik dwelmsmokkelary

auscanʼn Egpaar van Australië was opgewonde nadat hulle ʼn gratis vakansie na Kanada en splinternuwe bagasiesakke gewen het, totdat hulle besef het hulle het onwetend dwelmmuile geword.

“Die egpaar, ʼn 72-jarige man en ʼn 64-jarige vrou, het aan doeanebeamptes gesê hulle is besorg oor hul bagasie toe hulle op 13 Oktober by Perth Internasionale Lughawe geland het,” het die polisie in Australië Vrydag gesê.

Metamfetamien van ongeveer 3.5kg was binne die bagasie versteek en die polisie vermoed die egpaar se bagasie is in Kanada omgeruil.

“Die federale polisie in Australië sal aanvoer dat die egpaar slagoffers was van ʼn ingewikkelde bedrogspul en dat hulle onwetend deelgeneem het aan die smokkel van dwelmmiddels,” het die polisie in ʼn verklaring gesê.

Owerhede sê ʼn vermeende reisburo in Kanada, AusCan Tours, teiken glo ouer mense en bied twee kaartjies na Kanada, sewe nagte se akkommodasie en nuwe bagasie as prys aan.

“Die organiseerders van die bedrogspul het baie moeite gedoen om ʼn beeld van wettigheid te skep,” het David Bachi, bevelvoerder van die lughawepolisie in Perth, gesê. “Die reisigers het gelukkig die doeanebeamptes in kennis gestel en ons is dankbaar dat hulle besware nie van die hand gewys is nie. Ons kon gevolglik voortgaan met ʼn inhegtenisneming.”

ʼn 38-jarige man van Kanada is dieselfde dag by die lughawe in hegtenis geneem en hy is intussen aangekla dat hy ʼn kommersiële hoeveelheid dwelmmiddels gesmokkel het.

Die polisie het tydens ʼn klopjag op ʼn hotel in Scarborough, Perth, beslag gelê op dokumente wat glo verband hou met die bedrogspul. Elektroniese toerusting, twee bagasiesakke (soortgelyk aan die bagasie waarop die polisie by die lughawe beslag gelê het) en Aus$15 000 (meer as R140 000) is ook opgespoor.

Jan Hill, direkteur van doeane by Perth-lughawe, het reisigers daarteen gewaarsku om enigiemand anders se bagasie te dra. “Indien jy versoek word om enigiets vir enigiemand te dra moet jy die regte keuse maak en die plaaslike owerhede inlig,” het sy gesê. “Moenie enigiemand anders toelaat om jou sak te pak nie en moenie bagasie namens enigiemand anders dra nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.