Du Toit of Etzebeth, Nienaber of Dobson?

Pieter-Steph du Toit is een van die benoemdes vir SA Rugby se speler van die jaar. (Foto: Emmanuel Dunand/AFP)

Pieter-Steph du Toit, die man wat die All Blacks disnis in die Wêreldbeker-eindstryd in Parys getêkkel het, tel onder die benoemdes vir SA Rugby (Saru) se speler van die jaar-toekenning.

Die 31-jarige losvoorspeler het ʼn barshou op die Stade de France gespeel en hy het 28 keer ʼn Nieu-Seelander in sy spore gestuit.

Du Toit is saam met Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Frans Malherbe en Damian Willemse vir die gesogte toekenning benoem.

Etzebeth en Kolisi is die mees onlangse wenners, terwyl Malherbe ongetwyfeld die onbesonge held van Springbok-rugby is.

Die 32-jarige stut is immers die rots waarop Suid-Afrika se skrumsukses gebou is.

Dan het Willemse gereeld met ʼn paar blink vertonings vorendag gekom en sy goeie voetwerk het gereeld gemaak dat verdedigers na lug gryp.

In die span van die jaar-kategorie geniet die Springbokke ongetwyfeld die binnebaan. Die Wêreldbeker-wenners sal sake met die Cheetahs en die Stormers in dié kategorie uitspook.

Nodeloos om te sê is die wedloop om die afrigter van die jaar-titel dan tussen Jacques Nienaber (Springbokke), Hawies Fourie (Cheetahs) en John Dobson (Stormers).

Die wenners word vroeg in die nuwe jaar aangekondig.

  • Benoemings:

SA Rugby se speler van die jaar: Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Frans Malherbe en Damian Willemse.

Vrouespeler van die jaar: Aseza Hele, Libbie Janse van Rensburg, Babalwa Latsha, Rights Mkhari en Nadine Roos.

Jong speler van die jaar: Sacha Feinberg-Mngomezulu, Jaden Hendrikse, Canan Moodie, Evan Roos en Ruan Venter.

Sewesspeler van die jaar: Ricardo Duarttee, Christie Grobbelaar en Shilton van Wyk.

Span van die jaar: Cheetahs, Springbokke en Stormers.

Afrigter van die jaar: John Dobson (Stormers), Hawies Fourie (Cheetahs) en Jacques Nienaber (Springbokke).

Curriebeker-speler van die jaar (Premierliga): Tinus de Beer (Pumas), Ruan Pienaar (Cheetahs) en Devon Williams (Pumas).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Waarnemer ·

My beskeie bydra as volg:
SA rugby speler vd jaar-Pieter – Stehp fu Toit.
Vroue speler vd jaar-weet nie.
Jong speler vd jaar-Canan Moodie
7’s speler vd jaar-Ricardo Duartee
Span vd jaar-Springbokke
Afrigter vd jaar-Rassie Erasmus(Jacques Nienaber was maar net sy hulp afrigter)
CB speler vd jaar-Ruan Pienaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.