Jean-Pierre Els (30) van Uvongo, ʼn duikmeester van African Dive Adventures, is Dinsdagmiddag lewend gevind nadat hy tydens ʼn skubaduik vermis geraak het.
Els, ʼn inwoner van Uvongo naby Shelley Beach in KwaZulu-Natal, het omstreeks 08:30 vermis geraak nadat hy ʼn skubaduik saam met ʼn groep mense sowat 5 seemyle vanaf die kus van Shelley Beach gedoen het.
Craig Lambinon, ʼn woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê Els is omstreeks 15:20 in die see deur die Transnet-helikopter opgespoor, sowat 45km vanwaar hy vermis geraak het.
“ʼn NSRI-swemmer is van die helikopter na Els gesak, waarna ʼn harnas om hom vasgemaak is. Hy is daarna na veiligheid gehys,” het Lambinon gesê.
“Ten spyte van uitputting, dehidrasie en sonbrand is hy nie beseer nie en was dit nie nodig om hom in ʼn hospitaal op te neem nie.”
Na wat verneem word, het Els tydens die duik van die groep geskei geraak. Toe hy na die oppervlakte terugkeer, was daar geen teken van die groep of die boot nie. Hy het vir 7 ure in rowwe seetoestande gedryf voor hy opgespoor is.
Lees ook:
Duikmeester vermis ná skubaduik