ʼn Duikmeester, in sy laat twintigs, word vermis nadat hy vroeër vandag gaan skubaduik het.
Craig Lambinon, ʼn woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Dinsdag gesê ʼn volskaalse soektog is omstreeks 08:30 van stapel gestuur nadat die duiker sowat 5 seemyle vanaf die kus van Shelley Beach, KwaZulu Natal, vermis geraak het.
“Die duikmeester het ná ‘n duiksessie saam ander skubaduikers nie teruggekeer na die oppervlak nie. Dit is in die stadium nie duidelik wat gebeur het nie. Dit sal slegs deur verdere ondersoek vasgestel word,” het Lambinon gesê.
Die skipper van die boot wat die groep uitgevat het, het na die man begin soek terwyl hy gewag het vir reddingswerkers om op die toneel te verskyn.
Die soektog duur nog voort.