Duisende boomspesies nog onontdek

‘n Maroelaboom. (Foto: Steven Tan/Flickr)

Wetenskaplikes vermoed daar is nog sowat 9 000 boomspesies op aarde wat nog nie ontdek is nie, met amper die helfte hiervan wat in Suid-Amerika voorkom.

Onlangse navorsing het bevind dat die totale aantal bekende boomspesies op aarde nou al meer as 73 000 is, terwyl meer as 9 000 spesies waarskynlik nog nie deur die mensdom ontdek is nie.

Sowat 40% van dié onontdekte boomspesies kom glo in Suid-Amerika voor.

Prof. Cang Hui, biowiskundige aan die Universiteit Stellenbosch (US) se departement Wiskundige Wetenskappe, was deel van ʼn span van 147 navorsers van verskeie instellings wêreldwyd wat die studie rondom boomspesies in die wêreld geloods het.

Die nuwe globale skatting van bekende boomspesies is onlangs in die Proceedings of the National Academy of Sciences of the United States of America (PNAS) gepubliseer en beloop altesaam 73 274 spesies. Dit is ongeveer 14% meer boomspesies wat ontdek is sedert die vorige skattings in 2017 (60 000) en 2018 (64 000).

Die navorsingspan het gebruik gemaak van ʼn globale grondvlakgeverifieerde databasis van nagenoeg 64 100 spesies ten einde skattings te ontwikkel van die aantal boomspesies op bioom-, kontinentale en globale skaal.

Deur die gebruik van die jongste statistiese metodes het hulle ook daarin geslaag om ʼn skatting te maak van die aantal boomspesies wat tans nog onbekend aan die mensdom is.

Dié syfer staan op 9 186.

Uit die skatting kom 43% van alle onontdekte boomspesies in Suid-Amerika voor, 22% daarvan in Eurasië – wat die hele Europa en Asië beslaan – 16% in Afrika, 15% in Noord-Amerika en 11% in Oseanië wat Australië en duisende eilande in die Sentraal en Suidelike Stille Oseaan insluit.

Wetenskaplikes het egter steeds nie ʼn fundamentele begrip van hoeveel boomspesies daar werklik op die aarde is nie, ten spyte daarvan dat dit onder die grootse organismes op die planeet tel, wat ook die wydste verspreid voorkom.

Hui sê biodiversiteitskatting is op streek- en globale skaal ʼn uitdagende taak.

“Aangesien dit slegs prakties haalbaar is om in ʼn klein gedeelte van die ekosisteem in areas van belang opnames te kan doen, moet die skattings van hierdie opnames geëkstrapoleer word na veel groter areas waarvoor daar nie data bestaan nie.

“Gegewe die feit dat ons skattings toon dat daar ongeveer 31 100 boomspesies in Suid-Amerika voorkom, waarvan slegs 27 200 tans aan wetenskaplikes bekend is, beteken dit dat daar nog 3 900 onontdekte boomspesies op hierdie vasteland is.

“Die meeste van bogenoemde onontdekte spesies kan endemies wees en in diversiteitsbrandpunte van die Amasonekom en die Andes-Amasone-koppelvlak voorkom.”

Boomspesies bedreig

Volgens die navorsingspan belig die resultate van hul navorsing die kwesbaarheid van boomspesies wêreldwyd as gevolg van die mens se veranderende grondgebruik en die gepaardgaande invloed op toekomstige klimaat.

“Die verlies van dele van woude waar seldsame spesies voorkom, sal direkte en potensieel langdurige gevolge op die globale spesiediversiteit hê, asook op hulle vermoë om ekosisteemdienste te kan verskaf,” sê die span.

“Ons resultate belig die gebrek aan kennis wat ons steeds het oor die boomspesies wat in ons wêreldwye woudsisteme voorkom, asook ons gebrekkige kennis oor die waarde van nuwe benaderings om hierdie gapings te help vul.”

Die navorsers hoop dat hierdie nuwe inligting rondom die geskatte boomspesies ʼn bydra tot die boom- en woudbewaringspogings sal hê en die toekomstige ontdekking van nuwe boomspesies in sekere dele van die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietertjie ·

Ek wonder altyd hoe weet mense wát dit is wat hulle nog nie weet nie, of selfs hóéveel dit is..

Marius ·

In Suid Afrika word al die bome afgekap en gebrand en daar word nie weer aangeplant nie. Dink nie die mense stel in die geringste belang in die bewaring van bome nie.

Treurwilger ·

Pragtige foto!
Onontdekte spesies is ten minste nog veilig buite bereik van die mensdom.
Bome is die “Kroon van die Skepping”, na my mening.
Die lafenis wat hulle op snikhete dae bied se waarde is onberekenbaar.
Kleiner huise en meer groot skadubome behoort hoofprioriteit te wees in die gesprekke oor “klimaatsverandering”, maar dit gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.