Duisende staan tou om Madiba te sien

Van die skare by die Uniegebou. Foto: EWN / Twitter

Van die skare by die Uniegebou. Foto: EWN / Twitter

Duisende mense het Woensdag tou gestaan buite die Uniegebou in Pretoria in ʼn poging om vir oulaas wyle oud-pres. Nelson Mandela te sien terwyl hy daar in staatsie lê.

Lede van die publiek kon van 12:00 af Mandela se oorskot besigtig het, nadat familie en afgevaardigdes van 10:00 af eerste die geleentheid gehad het om hom te groet. Die ry het egter vinnig begin langer word en Tshwane-metropolisiebeamptes moes bontstaan om die skare te beheer.

Volgens verslaggewers is daar mense van alle rasse wat die wyle staatsman kom groet het. SAPA berig dat talle mense T-hemde van veral die ANC en Agang SA dra. Die skare het ook sambrele gebruik om hulself teen die son te beskerm.

Net voor 12:00 het mense in die ry begin kla dat dit te stadig beweeg. “Ek weet nie hoe die regering beplan het nie, maar die reëlings vir die rystanery gaan binnekort chaos veroorsaak. Die busse kom nie gereeld nie, en ek is bevrees mense gaan binnekort rusteloos raak,” het Irvin Lesetja van Mamelodi gesê. Daar is ʼn sterk polisieteenwoordigheid by die Uniegebou.

Die publiek het nog Woensdag tyd tot 17:30 om Mandela te besigtig. Hy lê tot Vrydag in staatsie by die Uniegebou. Lees hier vir meer inligting.

Lees ook:
Foto’s: Madiba lê in staatsie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henko ·

Gee net kans, binnekort heers wanorde en weg is enige respek vir die dooie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.