Duisende wys hul steun vir Pretoria se naam

Die foto is deur Riesl Spies op Facebook gelaai.

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê tussen twintig- en dertigduisend mense het gister by die Voortrekkermonument in Pretoria saamgetrek om hulle steun vir die behoud van Pretoria se naam te wys.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dié skare het ʼn Afrikaanse musiekfees wat ter behoud van die stad se naam by die monument gereël is, bygewoon. “Die geleentheid het plaasgevind in ʼn tyd waar die Tshwane metroraad opnuut pogings aanwend om Pretoria se naam te verander. Pretoria se 157ste verjaardag en die Solidariteit Beweging se 110de verjaardag is ook by die geleentheid gevier.”

Volgens Kriel wys die feit dat letterlik duisende mense by die Voortrekkermonument opgedaag het, dat mense baie sterk oor die stad se naam voel en dat hulle nie gediend is met hernieude pogings om Pretoria se naam te verander nie. “As die minster van Kuns en Kultuur, Paul Mashatile, opreg was toe hy openbare deelname oor Pretoria se naam aangevra het, is daar geen manier waarop Pretoria se naam na hierdie byeenkoms kan verander nie. So nie, was die minister oneerlik in sy versoek tot openbare deelname,” het Kriel bygevoeg.

Top Afrikaanse sangers soos Steve Hofmeyr, Jay, Sorina, Jakkie Louw, Adam Tas, Gerrie Pretorius, Willem Botha, Fredi Nest, Monique, Dewald Wasserfall, DJ Ossewa, Ghapi en vele ander bekendes het tydens die fees opgetree om ook hulle steun vir Pretoria se naam te wys.

Kriel het aangedui dat AfriForum sal voortgaan om die fees jaarliks aan te bied om te verseker dat Pretoria se naam vir ten minste nog 157 jaar sal voortbestaan.

Die foto is deur @FloozeSorina op Twitter gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Don Clifford ·

Regtig baie bly dat die saamtrek n groot sukses was , en dat ons erfenis nie sommer afgeransel sal word met die hierjy’s wat die land tans regeer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.