Duitse skatjagter antieke goudvonds kwyt

Romeinse skat‘n Duitse skatjagter wat met ‘n metaalverklikker ‘n skat aan ou Romeinse goue en silwer munte en juwele opgespoor en onwettig uitgegraaf het, is sy vonds kwyt, nadat argeoloë op die vonds beslag gelê het.

Die Duitse owerhede kla dat die honderde skatjagters wat woude en ander moontlike terreine met metaalverklikkers deurkruis, ‘n oorlas van hulself maak. Hulle rig soms enorme skade aan, soos die jongste geval waar die ongenoemde skatjagter ‘n silwer opvoustoel in die proses vernietig het. Die man het die vonds skynbaar op die swart mark begin verkwansel.

Die skat is na raming sowat 1 500 jaar oud, en dateer uit die tyd toe die Romeinse Ryk aan die verkrummel was. Germaanse stamme het deur die gebied getrek, en sowel die Romeine as mekaar se besittings geplunder. Dit is dus nie bekend of die skat deur die welgestelde Romeinse eienaar begrawe is nie, en of ‘n Germaanse “barbaar” sy buit begrawe het, maar nie weer kon kom uithaal nie.

Die vonds is sowat ‘n miljoen euro’s (sowat R15,1 miljoen) werd.

Sewe foto’s van die skat kan hier besigtig word.

Bron: The Local

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae