Duitse toeris gered na hy van krans in Oos-Kaap afval

Waterfall Bluff in Transkei Foto: www.shanesfishing.co.za

ʼn Duitse toeris sterk tans in die hospitaal aan nadat hy glo oor die naweek van ʼn krans by die Waterfall Bluff in Transkei afgeval het.

Herribert Schropp (71) was een van ʼn groep van 21 toeriste wat Saterdag ʼn grot by dié waterval in die Oos-Kaap gaan besigtig het, berig Beeld. Volgens Nita Ross, woordvoerder vir die Mbotyi Lodge, war die groep tuisgegaan het, het Schropp glo sy kop in die grot gestamp, gestruikel en toe by die 30m-hoë krans afgeval. “Die gids, Edgar Pogulis, kon afklim en hom stabiliseer, terwyl die ander gids die res van die groep na die gastehuis teruggeneem het,” het Ross gesê.

Kaptein John Fobian, rampbestuurshoof vir die polisie in die Oos-Kaap, het gesê ambulans- en soek-en-reddingspanne uit Oos-Londen, Mthatha en Durban het aan die redding deelgeneem. Bewolkte toestande het die reddingspoging bemoeilik, en die hulp van die lugmag is uiteindelik ingeroep. ʼn Oryx-helikopter het uit Durban aangekom.

Ná ʼn 10 uurlange reddingspoging is Schropp uiteindelik na die St Augustine’s-hospitaal in Durban geneem waar hy tans in ʼn stabiele toestand verkeer.

Schropp is glo nie deur enige familie op die toer vergesel nie en volgens Ross was die res van die groep Sondag reeds op pad na hul volgende bestemming.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.