Durban se water veilig om te drink

Die eThekwini munisipaliteit het vrese dat sy water ná onlangse vloedskade nie veilig is om te drink nie, afgemaak. “Ons wil graag alle inwoners en duisende afgevaardigdes wat die klimaatsveranderingkonferensie bywoon, verseker dat die munisipaliteit se drinkwater nie deur die vloede geaffekteer is nie,” het dr. Ayo Olowolagba, waarnemende hoof van gesondheid by die munisipaliteit aan Sapa berig.

Inwoners was bekommerd oor die drinkwater nadat die stad aangekondig het dat die vloede straatriole en sekere rioolwateraanlegte laat oorstroom het.

Volgens Olowolagba is daar egter geen rede tot kommer nie.

Vyf mense is dood en verskeie eiendomme is beskadig nadat’n swaar reënbui Sondagaand uitgesak het, ure voor die aanvang van die Cop17-klimaatsveranderingskonferensie. Olowolagba het gesê dit is moontlik dat sekere damme met afvalwater besmet is en dat dit ‘n verhoogde risiko vir openbare gesondheid kan inhou. Seewater by strande wat naby aan riviermonde geleë is kan ook ‘n risiko inhou as gevolg van hoë bakterie-vlakke.

“Ons maan mense om nie nou by sulke strande te swem nie,” het hy gesê.

Riviere en stormwaterafvoerpype is ook vermoedelik besmet en die publiek is gemaan om ook van hierdie water af weg te bly. “Mense wat water uit riviere drink moet die water eers kook. Ons hou die situasie dop. Die waarskuwing wat ons uitgestuur het is bloot ‘n voorkomingsmaatreël.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.