Dwelmmuil se ma sterf

Tessa Beetge tydens 'n onderhoud met SABC3 se Special Assignment.

Tessa Beetge tydens ‘n onderhoud met SABC3 se Special Assignment.

Marie Swanepoel, die ma van die veroordeelde dwelmmuil. Tessa Beetge, is dood in ‘n hospitaal in Oos-Londen ná ‘n kort siekbed, het die SAUK Vrydag berig.

Swanepoel het die polisie bygestaan om bewyse te versamel wat tot die skuldigbevinding en vonnisoplegging van Sheryl Cwele, die eksvrou van Siyabonga Cwele [minister van staatsekuriteit], gelei het. In haar getuienis het Swanepoel deur ‘n reeks e-posse en SMSe bewys dat Cwele Beetge na Suid-Amerika gestuur het om 10kg kokaïen vir Cwele en haar medebeskuldigde, Frank Nabolisa, terug te smokkel.

Cwele en Nabolisa het onskuldig gepleit op aanklagte van sameswering om met dwelms handel te dryf, om ‘n vrou genaamd Charmaine Moss te versoek om dwelms in Turkye te gaan oplaai, en om Beetge sover te kry om kokaïen van Suid-Amerika te smokkel.

Die Pietermaritzburgse hooggeregshof het hulle in Mei 2011 skuldig bevind aan dwelmhandel. Altwee is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis. Die hoogste hof van appèl het later hul vonnisse na 20 jaar verleng.

Nabolisa het toe die konstitusionele hof genader, wat bepaal het dat die staat eers amptelik teen die vonnisse moes appelleer voordat dit in die appèlhof verleng kon word. Nabolisa se oorspronklike vonnis van 12 jaar is weer ingestel.

Cwele het in Julie ‘n soortgelyke appèl by die konstitusionele hof ingedien. Al 11 regters het bevind dat haar vonnis ook, in die lig van hul bevindings in Nabolisa se geval, verminder moet word.

Beetge dien tans agt jaar tronkstraf uit in Sao Paolo in Brasilië. Sy is in 2008 in daardie land in hegtenis geneem.

Lees ook:
Cwele sit ook net 12 jaar
Dwelmmuil se ouers wil met president vergader
Cwele tronk toe
Dwelmvonnis van minister se eksvrou verswaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.