ʼn Dwelmmuil wat op Kersdag op OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem is, is in die hospitaal aan ʼn hartaanval, wat glo weens ʼn oordosis veroorsaak is, dood.
Die 48-jarige man van Ecuador is na sy inhegtenisneming na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer vir x-strale. Daar is pakkies vloeibare kokaïen in die man se maag gevind. Die polisie sê die man het Maandag inmekaargesak en gesterf. Hy het glo ʼn hartaanval gehad weens ʼn oordosis. Die polisie sê die waarde van die dwelms is nog nie bepaal nie.